Leeu by Hobatere geskiet

Francoise Steynberg - ’n Leeuwyfie, Meebelo (HPL-11), ’n 12-jarige matriarg van die Hobatere-trop, is Vrydagoggend vroeg in die omgewing van Hobatere in die Kunenestreek deur ’n kommunale boer doodgeskiet, volgens AfriCat.
Dít ondanks patrollies soggens en saans van leeuwagters, asook krale wat deur AfriCat vir boere opgerig is om hul vee te beskerm.
“Hierdie boer het nie sy vee in die kraal gejaag nie, maar in ’n beskermde gebied laat wei,” het me. Tammy Hoth van AfriCat gesê.
“Dit is onwettig om beeste in ’n beskermde gebied, soos die Etosha Nasionale Park en Hobatere-konsessie, te laat wei, alhoewel kommunale bewaringsgebiede sekere gebiede as veelvuldige sones verklaar het waar mense mag bly en hul beeste laat wei,” het sy gesê.
Hoth sê in hierdie geval het die leeuwyfie ’n koei buite die be­skermde gebied gevang “ondanks die feit dat die leeu die nag in die Hobatere-gebied kon wees en sy op plaasgrond geskiet is”.
Hoth sê volgens die wet mag ’n boer ’n leeu doodmaak of vang as dit jou lewe of dié van jou vee bedreig, “maar dit moet binne tien dae aan die polisie of die ministerie van die omgewing en toerisme rapporteer word”.
Sy sê die polisie en die ministerie ondersoek tans die saak.
“Hierdie soort gevalle vind meer gereeld plaas as waarvan die publiek bewus is, want die meeste leeus wat doodgemaak word, dra nie nekbande nie en word nie gemonitor nie.
“Dit is gevalle soos Cecil en nou Meebelo, wanneer ’n navorsingsleeu gedood word, dat bewustheid geskep kan word van die hartseer realiteit wat op ’n daaglikse basis oor die hele Afrika plaasvind.”
Hoth sê daar is baie probleme, veral met die vierde jaar wat erge droogte heers, en AfriCat gee baie steun aan boere om minder vee te verloor as hulle hul vee beter beskerm.
“Die heining tussen Hobatere, die beskermde gebied en plase bestaan byna nie en dit lei tot groter mens-dier-konflik. Al die belanghebbendes bespreek tans hoe die heining op die vinnigste manier herstel kan word.”
Hoth meen die dood van Meebelo is ’n slag vir toerisme in die streek, veral vir Hobatere Lodge wat onlangs opgegradeer is.