Poaching cost money

Francoise Steynberg - Met altesaam 86 renosters wat verlede jaar in Namibië gestroop is, het die minister van die omgewing en toerisme tydens sy begrotingsmotivering gefokus op die beskerming van wildlewe en be­skermde gebiede.
Vir dié program het mnr. Pohamba Shifeta meer as N$213 miljoen versoek wat die grootste hap uit sy totale ­begroting neem.
“Die hoofaktiwiteite behels die bestuur van beskermde gebiede, asook om wildlewe te beskerm deur stropery en onwettige handel in wild­lewe te beveg,” het die minister gesê.


Mnr. Dudu Murorua van die UDF het tydens die bespreking verlede week gesê goeie werk word gedoen om wildstropery vas te vat. Hy het gesê 99,9% van die kopers van onwettige renosterhoring is die Chinese.
“Die ministerie van die omgewing en toerisme en die ministerie van internasionale betrekkinge en samewerking moet saam met die Chinese ambassadeur om ’n tafel sit. Die Chinese moenie mense met kriminele bedoelings na Namibië stuur nie,” het Murorua gesê.


Shifeta het geantwoord dat Namibië nie buitelanders kan verhoed om die land te besoek nie.
“Wildstropery word deur goed georganiseerde sindikate uitgevoer, of hulle nou van Afrika, Asië of Europa is. Ons kan nie sê hulle is net van Asië nie, alhoewel die markte daar is,” het Shifeta gesê.
“Ons het met lande beraadslaag - nie net in Asië nie - hoe hulle kan help om wildstropery te voorkom en hulle ondersteun ons, ook die Chinese.”
Die ministerie se totale begroting is sowat N$582 miljoen, waarvan meer as N$442,7 miljoen aan die opera­sionele begroting en N$139,2 aan die ontwikkelingsbegroting bestee gaan word.
Die ministerie het ses programme, waarvan die eerste program die bestuur van wildlewe en beskermde gebiede soos die land se nasionale parke behels waarvoor Shifeta meer as N$213 miljoen aangevra het.
“Dit is ook om die bestuur van gemeenskapsgebaseerde natuurlike hulpbronne en die volhoubare gebruik van wild te ondersteun, asook om wildstropery en die onwettige handel in wildprodukte te voorkom,” het die minister gesê.
Die tweede program behels die be­skerming en bestuur van sleutelspesies en die natuurlike habitat waarvoor Shifeta meer as N$31,7 miljoen begroot het. Dit sluit in wetenskaplike navorsing, die monitor en die oorsig van die nasionale bewaring en bestuursprogramme van wildspesies en -bevolkings van ekologiese of ekonomiese belang, asook permitbeheer vir die volhoubare gebruik van wildprodukte. Daar is ook begroot vir die Konvensie oor Internasionale Handel in Beskermde Spesies van Wilde Fauna en Flora (CITES) wat vanjaar in Suid-Afrika plaasvind. Wildvang en -ver­skuiwing van raar spesies en ander wild is ook hierby ingesluit om beskermde gebiede en landelike gemeenskappe te ondersteun, asook die bewaring en herstel van biodiversiteit en die bestuur van wild- en toerismekonsessies op staatsgrond.

TOERISME


Die derde program met ’n begroting van sowat N$81,5 miljoen is vir die ontwikkeling van toerisme en dobbelary geoormerk. Dit is vir die bemarking van Namibië as ’n toeristebestemming, steun van toerismeontwikkeling nasionaal en internasionaal, toerismenavorsing, -statistieke en -opnames, die bevordering van die Namibiese ­toerismebedryf en die regulering van dobbelary.
Die vierde program behels omgewingsbestuur en -regulering waarvan die begroting sowat N$36,7 miljoen is. Dit word aangewend vir die volhoubare gebruik van natuurlike hulpbronne deur middel van gesonde omgewingsbestuur en die bewaring van biodiversiteit.
Die vyfde program se begroting is meer as N$148,3 miljoen en behels beplanning, koördinering, infrastruktuurontwikkeling, onderhoud, monitering en evaluering.
Die sesde program se begroting is sowat N$70,4 miljoen en word aan administrasie, koördinering en beleggings bestee.